Reg en Onreg
Daar het oor die afgelope twee dekades ‘n hernieude belangstelling in die vroeë Kaapse samelewing – asook sy kriminele verlede – ontstaan. Anders as in die verlede, waar die blanke tradisioneel die fokuspunt van die geskiedskrywing was, het daar sedertdien verskeie artikels en selfstandige werke die lig gesien waarin die “ander” groepe aan die Kaap die fokuspunt geword het, veral die slawe en die Khoisan. Publikasies het uit die pen van plaaslike en buitelandse historici verskyn en was gegrond op deeglike argivale navorsing.1 Terselfdertyd het die “radikale” geskiedskrywing in Suid-Afrika inslag gevind en het sommige historici die agtiende eeu in terme van ‘n klassestryd tussen bevoorregte Europeërs en onderdrukte, nie-Europeërs geïnterpreteer. Die verskynsel van slawerny het onder die vergrootglas gekom en die tradisionele beskouing – dat die Kaap ‘n “verligte” vorm van slawerny beleef het – is as ‘n mite afgemaak; slawerny kan volgens hierdie sienswyse nooit as verlig beskou word nie.2
‘n Gebrek aan bronne wat gegewens oor nie-Europeërs verskaf, het die historikus, wat reg wou laat geskied aan die “ander” groepe, ernstig gedwarsboom. Die historikus was grootliks op die reisbeskrywings van vroeë reisigers aangewese. Robert Ross het egter twee belangrike reekse dokumente – wat vroeër deur die “tradisionele” historici gebruik was 3 – as ‘t ware “herontdek”; die opgaafrolle (belastingrolle) en hofrekords. In sy Cape of Torments, wat oor die lewe van die slawe aan die Kaap handel, het hy grootliks van hofrekords gebruik gemaak om die lewe van die slawe te rekonstrueer.
Hofsake is een van die belangrike bronne van inligting waaruit die daaglikse lewe van die agtiende eeuse inwoners van die Kaap herkonstrueer kan word. Dit geld veral vir die slawe. Gegewens oor burgers en koloniste word in kerkraadnotules, doop- en trourekords, testamente en talle ander siviele rekords, insluitende belastingrolle (opgaafrolle), aangetref. Vir alle praktiese doeleindes kom daar min of geen gegewens oor slawe in hierdie belangrike reekse dokumente voor nie en werp hofrekords, op ‘n toevallige wyse, meer lig oor die lewensomstandighede van hierdie talryke groep Kaapse inwoners.
Hofrekords, hetsy siviele of kriminele rekords, weerspieël nie die daaglikse omstandighede van die deursnee-mens nie – dit is die minderheid van enige bevolking wat met die gereg bots.4 Aan die ander kant weerspieël hofrekords in enige gegewe samelewing ook nie die werklike omvang van misdaad binne ‘n groep nie omdat alle oortreders nie opgespoor kan word nie of die misdaad nie gerapporteer was nie. Laasgenoemde was waarskynlik gedurende die agtiende eeu ‘n algemene verskynsel omdat die gebied yl bewoon was en die enkele drosdye honderde kilometers van mekaar verwyder was.
Die Kaapse hofrekords bied uiteraard ‘n negatiewe beeld van die vroeë samelewing en het betrekking op burgers, Khoikhoi, San, Khoisan, slawe, Chinese en vryswartes. Verteenwoordigers van alle groepe wat hulle binne die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se invloedsfeer bevind het, het in die hof op kriminele oortredings tereggestaan en is skuldig bevind aan ‘n wye verskeidenheid van misdade. Die Xhosas en ander verwante groepe wat hulle buite hierdie sfeer bevind het, het nie voor die Raad van Justisie in Kaapstad verskyn nie. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie misdade gepleeg was nie; die verslag van Adriaan van Jaarsveld getuig van misdade wat weens die afwesigheid van ‘n effektiewe administratiewe mag in ‘n oop grensgebied, deur beide grensboere en Xhosas gepleeg was.5
Die Raad van Justisie was die regsprekende instansie aan die Kaap. Aanvanklik was die goewerneur die voorsitter, maar vanaf 1734 was dit die secunde6 – die goewerneur se tweede-in-bevel. ‘n Belangrike persoon in hierdie Raad was die fiskaal wat as aanklaer, en aanvanklik ook as sekretaris opgetree het. Ander persone betrokke by die Raad van Justisie was die geweldiger (beul), die geregsbode7 en vanaf 1658 twee burgerrade – laasgenoemdes het uit die burgerstand gekom en het sitting gehad indien ‘n burger voor die hof verskyn het. Na 1783 het die Raad bestaan uit ‘n president, ‘n lid van die Politieke Raad, ses Kompanjieamptenare en ses burgerrade.8
Indien slawe of Khoikhoi voor die hof verskyn het, was daar geen persone uit hulle stand om hulle te verteenwoordig nie. Hulle kon alleen hoop dat die regbank ‘n onpartydige oordeel oor hulle sou vel. Die feit dat die fiskaal ‘n eed afgelê het waarin hy “sonder ooghluijkinge haar off gunst van ijemandt”9 sou optree, was nie altyd ‘n troos vir ‘n slaaf nie. Die slawe was immers ‘n groep wat wetlik van feitlik alle regte en voorregte verstoke was.
Met die lees van die hofsake in die agtiende eeu word die leser bewus van die harde en soms grusame vonnisse wat misdadigers opgelê was. ‘n Skrywer, wat goed bekend is met die agtiende eeuse hofsake, het dit dan ook “die beoefening van wetlike terreur” genoem.10
Hierdie uitspraak is egter oordrewe. Die strafreg wat in die sewentiende en agtiende eeue in Nederland gegeld het, kan nie as wetlike terreur bestempel word nie. Die strawwe wat in Nederland gegeld het was nie erger of meer boosaardig as strawwe wat in Engeland of Duitsland toegepas was nie. Om die Kaapse regstelsel as “wetlike terreur” te beskryf, is om die gehele destydse Westerse regstelsel van dieselfde verskynsel te beskuldig. Dit getuig van ‘n gebrek aan insig in die tydsgees van die sewentiende en agtiende eeue.
Die doel van hierdie studie is juis om die tydsgees van die agtiende eeu te belig deur uit hofsake aan te haal.
Die hofsake weerspieël deur hulle inhoud dikwels die lot en lotgevalle van mense wat andersinds nooit in dokumente figureer nie. In hierdie opsig het die hofsake waarde vir die kultuurhistorikus.11 Ook die genealoog het belang hy hierdie hofsake deurdat die sterfdatums van vermoorde burgerlikes aangegee word asook inligting oor “voorzoons” en “voordogters” wat nie altyd in bestaande genealogiese werke verskyn nie.12 Dit verklaar ook die “afwesigheid” van sekere individue in die openbare lewe omdat hulle vonnisse op Robbeneiland uitgedien het! Ook regstudente en kriminoloë kan baat vind by die hofuitsprake wat aangehaal word.
Die hofstukke wat in die Kaapse Argiefbewaarplek gehuisves word is besonder omvangryk, soos ook die dokumente wat in die Rijksarchief (RA) in Den Haag, Nederland, geberg word.13 Die Instituut vir Historiese Navorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland beskik ook oor mikrofilm wat die Kompanjiestydperk volledig dek.
Die hofstukke omvat kladnotules, notules, die eise van die aanklaer (fiskaal), ondervraging van beskuldigdes en getuies, beëdigde verklarings en die hofuitsprake. Die inhoud dek beide siviele en kriminele sake.
In die lig van die massiewe volume van materiaal is daar in hierdie werke slegs na kriminele rekords gekyk. Maar die kriminele rekords is so omvangryk dat daar slegs op hofuitsprake gekonsentreer is, – die argiefgroep Sentenciën.
Hierdie enge begrensing het bepaalde nadele: Dit handel alleen oor persone wat deur die Raad van Justisie aan die Kaap skuldig bevind was aan ‘n kriminele oortreding en sluit diegene uit wat in die binneland op minder ernstige kriminele oortredings deur die landdroste skuldig bevind was. Dit sluit ook uit die beëdigde verklarings en ondervraging van getuies wat voor die hof verskyn het.
Die voordeel van die Sentenciën-reeks is dat dit ‘n kort (maar soms ook lywige) samevatting gee van die gebeure wat tot die pleeg van ‘n misdaad gelei het, soms kommentaar gee oor die rede vir ‘n bepaalde straf of waarom sekere faktore ‘n swaarder vonnis geregverdig het.
Ter wille van diegene wat meer van ‘n bepaalde persoon, misdaad of straf te wete wil kom, is ‘n addendum aangeheg waarin veroordeeldes se name in alfabetiese volgorde geplaas word14 en waarin die relevante bronverwysing verstrek word. Vir praktiese doeleindes verskyn “blankes”/Europeërs en slawe en Khoikhoi se name in twee aparte lyste – die wat gewone “Europese” vanne het in die een lys en die wat slegs voorname het en verder geïdentifiseer word deur hulle plek van herkoms en eienaar. Sommige vryswartes en vrygeborenes met “Europese” name en vanne is by die lys van “blankes” ingedeel.
Indien ‘n detail-studie van ‘n bepaalde saak gemaak word, sal al die relevante stukke geraadpleeg moet word en is die Sentenciën alleen nie voldoende nie. Die addendum kan in so ‘n geval as vindmiddel gebruik word en kan die datum die aanduiding gee van waar die saak in die ander reekse voorkom.
‘n Verdere nadeel van die Sentenciën is dat nie alle strawwe wat aan die Kaap opgelê was,in die reeks vermeld word nie. So is daar in die loop van hierdie studie verskeie persone gevind wat lank op Robbeneiland aangehou was sonder dat hulle in die Sentenciën figureer.15 So kom Hendrik Bibault, wat op Stellenbosch gevonnis was en in die Kaap gestraf was, se naam nie in die Sentenciën voor nie. Ook kon ‘n persoon vir ‘n ligter oortreding by ‘n drosdy in die binneland gevonnis gewees het en sal die betrokke saak dus nie in die Sentenciën figureer nie.
Nadele ten spyt, bly die Sentenciën ‘n waardevolle reeks dokumente wat die agtiende eeuse samelewing belig, onder andere ook die ongelyke verhoudings van ryk – arm16 ; eienaar – slaaf; offisier – soldaat; veebesitter – veelose, almal verhoudings wat die kiem van potensiële konflik in hulle gedra het. Maar verder ook die konflik en emosie tussen man en vrou asook die redelose gedrag van besope soldate, matrose, burgers, slawe, Khoikhoi en knegte.
Ross, wat sy gepubliseerde studie oor misdaad tot slawe beperk het, meld dat ‘n historikus geneig mag wees om die (wan-) gedrag van slawe in terme van ‘n klassestryd te sien. Hyself het egter verkies om ‘n beskrywende eerder as analitiese metode te volg.17
Aangesien hierdie studie nie net oor die misdaad van slawe handel nie, maar oor alle inwoners wat in die Sentenciën vermeld word, sou ‘n klassestryd-analise nie hier as vertrekpunt geneem kon word nie. Wat wel gedoen is, is om die tipe misdade te ontleed, te sistematiseer en agtergrond-gegewens te gee oor waarom sekere strawwe opgelê was.
‘n Verdere doel van hierdie studie was om idees en uitsprake in bestaande literatuur te toets. ‘n Voorbeeld hiervan is die stelling dat ‘n slaaf wat aan die misdaad van diefstal skuldig bevind was heel waarskynlik gehang sou word.18 Nog ‘n stelling in hierdie trant is dat slawe aan die Kaap aan gewettigde geweld blootgestel was.19
Om bogenoemde rede is soveel as moontlik hofsake in hierdie studie opgeneem om die reg en die onreg binne die Kaapse strafregstelsel aan te toon. Feit is dat uitsprake gegee was wat in ooreenstemming met die heersende tradisionele Nederlandse strafreg was.20
Uit die aangehaalde bronne blyk dit dat persone uit al die verskillende kultuurgroepe aan die Kaap nie swaarder gestraf was as wat die algemene riglyne voorgeskryf het nie. Wat wel waar is, is dat sommige ligter gestraf was as ander en dat dit blyk of sommige blankes soms ligter gestraf was weens die status wat hulle in die gemeenskap beklee het.21 Ook blyk dit uit sommige sake dat sommige (blanke) individue nie vervolg of aangekla was nie al was hulle ten minste medepligtig aan die beplanning van ‘n moord. Om hierdie rede, asook omdat weinig persone met ‘n belangstelling in regsgeskiedenis die 18de eeuse skrif in die oorspronklike dokumente kan lees, word ‘n volledige afskrif van die vonnis van Tryntje van Madagaskar as bylae aangeheg.22 Op hierdie wyse word die leser ook bekend gestel aan ‘n tipiese dokument uit die Sentenciën-reeks wat die basis van hierdie studie vorm.
Indien hierdie studie as stimulus dien vir die vra van nuwe vrae aan die verlede, of nuwe navorsing oor sosiale- of regsgeskiedenis uit die agtiende eeu tot gevolg het, het dit aan sy doel beantwoord.