Die akteur Frank Opperman, wat bekend is vir rolle soos Ouboet in Orkney Snork Nie, is op soek na sy voorsate om dié inligting oor sy familie met sy siek pa te deel.
Opperman se pa, mnr. Frankie Alfred Opperman (74), is terminaal siek met kanker en het sy broers en ma meer as 70 jaar laas, in 1938, gesien toe hy in die sorg van die Charlotte Theron-weeshuis in Bethlehem geplaas is.
Opperman jr. het gesê sy pa het sedertdien geen kontak met sy familie gehad nie.
“My pa het in 1952, toe hy 16 was, ’n brief aan die regering geskryf en gevra of iemand hom kan help om sy ouers te vind, maar daar is aan hom gesê daar is niks wat gedoen kan word om hom te help nie.”
Me. Nita Tesselaar, wat onder meer navorsing vir die SABC2-program Who Do You Think You Are? gedoen het, help die Oppermans met hul soektog. Inligting op www.ancestry24. co.za, wat mense help om hul voorgeslagte na te speur, is ook ingespan.
Die Oppermans het in die 1930’s in Lilianweg 48 in Fordsburg, Johannesburg, gewoon. Opperman sr. se pa was mnr. Nicholaas Phillip Opperman en sy ma mev. Anna Elizabeth Opperman, (née De Wet). Luidens Opperman sr. se geboortesertifikaat was sy pa op 26 Maart 1936 26 jaar oud en sy ma 25.
Hy is volgens die rekords van die Charlotte Theron-kinderhuis die naasjongste kind en is in 1936 gebore. Hy het twee broers, Nicholaas (gebore 1931) en Jacobus (gebore 1932), en twee susters, Elsie (gebore 1934) en Catharina Klasina (gebore 1938).
Opperman sr. se pa is tussen 1930 en 1939 ses keer in hegtenis geneem vir diefstal en sy ma moes alleen vir die kinders sorg.
’n Verslag wat in 1938 deur ’n maatskaplike werker, me. Nora Wilson, geskryf is, vertel van die armlastige omstandighede waarin mev. Opperman en haar kinders gewoon het. Sy het toe aansoek gedoen dat haar kinders in die kinderhuis geplaas word voordat sy die lewe aan Catharina Klasina geskenk het.
“Pa is tot twee jaar en twee maande tronkstraf gevonnis vir die ontvangs van gesteelde goedere. Daar is geen familielede wat bereid is om na die drie jongste kinders te kyk terwyl mev. Opperman in die Queen Victoria-hospitaal opgeneem is nie,” lui die verslag.