Spoor nou grafte op met die internet
“Kyk gou op die rekenaar waar ons oorlede vriende se grafte is.”
So ’n versoek klink dalk onsensitief, maar vir talle Suid-Afrikaners is dit al beskore om hul afgestorwe familielede of vriende se grafte op die internet op te spoor deur hul name op ’n Suid-Afrikaanse webwerf, Ancestry24, in te tik.
’n Foto van die graf, basiese inligting oor die afgestorwe persoon, asook die unieke wêreldligging van die graf, word só verkry.
Volgens die Ancestry24-projekleier, me. Heather MacAlister, is hul webtuiste die grootste in sy soort en die enigste waar die egtheid van elke inskrywing deur ’n bron ondersteun word.
Dorpe wat al aanlyn kan gaan, is Augrabies, Fraserburg, Kei-moes, die Moffat-sendingstasie op Kuruman, Postmasburg, Prieska en Riebeek-Wes.
Dorpe waarvan grafinligting opgeteken is, sluit in Wuppertal, Nieuwoudtville, Clanwilliam, Klawer, Vredendal (almal in die Wes-Kaap), asook Kokstad (KwaZulu-Natal), die Noord-Kaapse dorpe Kakamas, Keimoes en Sutherland, asook Smithfield (Vrystaat) en ’n begraafplaas in Pretoria.
Opnames is ook in Kaapstad en omgewing afgehandel.
Woensdag het MacAlister en ’n groep vrywilligers met opnames in die Maitland-begraafplaas van 100?ha begin en behoort oor drie jaar klaar te kry.
Die grafregister is al oorgeskryf, met inligting soos naam, van, sterfdatum, hoe diep die graf is, wie die persoon begrawe het en aan wie die erf waarop die graf is, behoort het.
Maar, sê MacAlister, armer gemeenskappe se grafte moet eerste gedoen word aangesien grafte daar gouer tot niet gaan en inligting só verlore gaan.
“Grafprojekte is eenvoudig en leersaam, maar arbeidsintensief; daarom benodig ons vrywilligers. Ek noem hulle spottenderwys friends of the crypt .”
“Só kan ons dorpenaars betrokke kry en waar leerlinge betrek word, leer hulle meer van hul dorp se geskiedenis. Snaaks genoeg, op baie grafte staan geskryf: ‘Jy sal nooit vergeet word nie’; maar dis presies wat gebeur – mense vergeet hul mense, hul geskiedenis.”
“Munisipaliteite vind baat daarby. Wanneer grafopnames klaar is, is die grafte in ’n mate opgeknap, want toegegroeide grafte word oopgeknip en grafstene skoongevee.
Enigeen wat as vrywilliger ’n grafsteenprojek in hul dorp wil ondersteun, kan MacAlister by 0?021 468 8957 bel. Opleiding sal gereël word.
Bu Julian Jansen http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Spoor-nou-grafte-op-met-die-internet-20100918