or
* No registration is required.

Afrikaners in Angola (1880 – 1929)

Afrikaner_Angola_anc24Hierdie verwerking van Heese se proefskrif  Transvalianos en Estrangeiros  – Afrikaners in Angola 1880 – 1928 (Universiteit van Kaapstad, 1976) omvat die tragiese lot van die sogenaamde Dorslandtrekkers, die verhoudinge met Portugal, inheemse volke, asook die periodieke interne struwelinge wat goed vergelykbaar is met die gebeure rondom die Groot Trek, wat toe bykans ’n halfeeu tevore plaasgevind het. Terselfdertyd kan ons vandag parallelle trek met die groep wat in 1902 na Argentinië is, en die huidige emigrasie-vloedgolf na Australië, Kanada ens., nes ál die Trekkers destyds geïdentifiseer het met die Ou Testamentiese Israeliete. Heese het ekstra gegewens, soos uit sy meesters-tesis (1974, Univ. Kaapstad: Genealogie as hulpwetenskap van Geskiedenis met verwysing na die Boeretydperk in Angola, 1880 – 1928) bygewerk, asook inligting uit resente literatuur.

Kolonisasie was mettertyd ’n bedreiging vir die Trekkers – die spanning tussen Brittanje, Portugal en Duitsland het hulle beïnvloed, net soveel as die gedurige siektes, ongediertes en veerowers. Verdeelde lojaliteite was moontlik die grootste enkele oorsaak van spanning onder die Angola Boere. Ondanks hul Portugese burgerskap het dié mense steeds ’n eenheidsgevoel gekoester met hul volksgenote in die Boererepublieke Vrystaat en Transvaal. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hulle selfs hulp aan die republieke aangebied en geld ingesamel ten spyte van hulle armoedige bestaan.

Ekonomiese faktore was aanvanklik die belangrikste beweegrede vir enige besluite, soos om te vestig en waar om te vestig – siektes, droogte, rooftogte deur inheemse volke, sprinkaanplae, vloede, die ongeskiktheid van die omgewing vir veeboerdery en ’n gebrek aan markte vir hulle produkte (veral groente) het etlike gesinne na ander woonplekke laat soek. Later het godsdiensgeskille ’n groot impak gehad op die uiteindelike wel en weë van die Angola Trekkers en in die laaste hoofstuk getiteld “Exodus” beskryf Heese die trek terug na Suid-Afrika; die einde van ’n fassinerende, dog relatief onbekende hoofstuk in die geskiedenis van die Afrikanervolk.

Aangesien hierdie boek gebaseer is op ’n akademiese verhandeling, is dit deeglik nagevors en word bronverwysings voorsien, sodat lesers self hierdie bronne kan raadpleeg of aanwend vir kruisverwysings. Heese het die vermoë om sy gekose tema te verryk met intrinsieke kennis en insig wat die gevolg is van jarelange navorsing, terwyl dit maklik lees, eerder as ’n opstapeling van droë feite: bona fide geskiedskrywing was nog nooit blote kroniekskrywing nie en Heese is een van die mees gerespekteerde historici wat hierdie land nog opgelewer het.

Dr. Francois P. Verster, Argivaris van Naspers, voorheen verbonde aan Die Kaapse Argief (1991 – 2007).

Lees meer en koop die boek

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.